 Eden-munisipaliteit gee R40 000 vir volstruisprojek 22 June 2009
Die Eden-distriksmunisipaliteit het onlangs R 40 000
aan die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer
oorhandig ter ondersteuning van die volstruis-biodiversiteitsbestuursprojek.

“Die bydrae is deel van die aanpak van projekte wat op die
klimaatsverandering-beraad in Februarie geïdentifiseer is,”
het mnr. Vernon Gibbs-Halls, omgewingsbeampte van Eden, gesê.
Die projek is van stapel gestuur om produsente te help om
natuurlike veld wat deur volstruise verniel is, te rehabiliteer
en sodoende ook die volhoubaarheid van die volstruisbedryf in
die Klein-Karoo te ondersteun.
Die plase van vier grondeienaars wat by die projek betrokke is,
bevat krities bedreigde plantegroei wat, uit ’n internasionale
oogpunt, beskerm moet word.
Die plantegroei is veronderstel om te keer dat reënwater vinnig
wegvloei en skade aanrig.
Waar die plantegroei verniel is, spoel die water egter weg en
veroorsaak dit erge erosie, wat met verloop van tyd diep dongas
gevorm het.
“Met klimaatsverandering kan ons nog swaar reëns verwag, en dit
maak sin om die vernielde veld te rehabiliteer sodat dit meer water
kan terughou,” het Gibbs-Halls gesê.
Die projek skep ook werk vir mense in die Zoar-gebied waar ’n span
van ses werkers opgelei word om die veld te help rehabiliteer.
“Dit is belangrik om mense bewus te maak van die voordele en gevolge
van goeie veldbestuur; en hierdie rehabilitasieprojek sal nie net
werkgeleenthede skep nie, maar ook die nadelige uitwerking van
klimaatsverandering verminder en selfs voorkom.”
Mnre. Henry Hill en Vernon Gibbs-Halls van die Eden-distriksmunisipaliteit
oorhandig ’n tjek vir R40?000 aan mnr. Anton Kruger, hoofbestuurder van die
Volstruis-besigheidskamer, en me. Susan Botha, hoof van die
volstruis-biodiversiteitsprojek. Foto: verskaf


|