 |
 Asemhalingsiekte by volstruise: Lugsakinfeksie24 August 2006
DIE VOLSTRUIS SE asemhalingstelsel (neus, lugpyp, lugsak en longe) voorsien suurstof aan die hart- en bloedvatstelsel
om suurstof deur die liggaam te versprei. Koolsuurgas word teruggevoer na die asemhalingstelsel om uit te asem.
Behalwe vir die gasuitruiling het die asemhalingstelsel ook baie ander funksies. Dit hou die liggaam se chemiese balans
in stand, asook die afbreek of opbou van verskeie stowwe wat die liggaam nodig het om normaal te funksioneer. Die lugweë
is belangrik vir reuk, smaak en die handhawing van liggaamstemperatuur. Indien die funksionering van die volstruis se
lugweë belemmer word, hou dit verreikende gevolge vir die volstruis in.
Spesiale beskermingsmeganismes in die volstruis se lugweg sluit fyn haartjies, ’n slymlaag en witbloedselle in wat
vreemde partikels opneem en vernietig.
Die ergheidsgraad en ekonomiese impak van lugweginfeksies by volstruise word bepaal deur die populasiedigtheid,
tropgrootte en ouderdom.
Respiratoriese probleme
Die respiratoriese probleme in volstruise is die gevolg van intensifikasie wat geassosieer word met die verhoging in
populasiedigtheid en stres. Die siekte het direkte en indirekte gevolge.
- Erosiesiekte: Hoër voergebruik en langer tyd
tot slaggereed.
- Afkeurings van ribkaste (8,8%) of totale karkas
(0.5%).
- Verhoogte vatbaarheid vir sekondêre infeksies wat
tot hoë vrektesyfers kan lei.
- Behandelingskoste, veral met hoë siektesyfer.
Veroorsakende agent
Volstruis-spesifieke Mycoplasma-organisme, soos gevind deur KLEIN KAROO International se navorsingspan, word geassosieer met lugsaktekens. ’n Draertoestand van mikoplasma kom dikwels voor.
Ander: Haemophilus en swamme. Newcastle- en Influenza-virus kan ook tekens van asemhalingsiekte veroorsaak.
Bydraende faktore
- Weerverandering is veral belangrik gedurende herfs
en lente as gevolg van temperatuurskommelinge.
- Stres: Veral vervoerstres (lang afstande, koud
en sonder voer); verandering van voer (gereelde
vars hoëvoedingswaardevoer na nuwe tipe
rantsoen in vreemde bakke); omgewing
(beskermde kuikenkampe na oop voerkrale);
sosiale stres (uitklas en meng met nuwe kuikens).
- Higiëne: Misstof in kampe, vuil waterbakke,
gemufde voer in bakke, vuil voersakke.
- Biosekuriteit: Vermenging van kuikens uit
verskillende bronne by die voerkraal (skielike
blootstelling aan verskillende potensiële nuwe
siekte-veroorsakende organismes).
- Weer: Wind en stof (verspreiding van organismes
en beskadiging van die volstruis se asemhalings-
weerstand). Ook die verkluimingsfaktor wat
gesien word tydens nat en winderige weer.
Kliniese tekens
Waterige neusuitloopsel, sinusse wat swel en soms oogvliesontsteking (skuim-oë), voer wat vassit op neus, roggel en skud van kop of oormatige sluk.
Versprei dan verder na die lugpyp, longe en lugsakke.
Die onderdrukkende effek skep die geleentheid vir sekondêre infeksies met gevolglike aansameling van etter in die sinuses, lugsakke, koors, longontsteking en septiese ontsteking.
[Broeivoëls wys dikwels geen tekens nie. Embrio-oorlewing, asook kuikenkwaliteit mag swakker wees.]
Beheer
Beheer is moeilik weens die draertoestand, verskuilingstaktiek van die organismes in die liggaam en beperkte vatbaarheid vir middels. Dit kan dus tans nie
uitgeroei word nie, maar slegs beheer en bestuur word.
Behandeling
- Vroeë identifisering en monitering is belangrik.
Dit bepaal die soort, sowel as die tydperk van
behandeling.
- Middels wat effektief is teen Mycoplasma is:
Oksitetrasikliene, Doxysikliene, Chlortetrasi-
kliene, Tylosin, Lincomycin en Advocin.
- Sekondêre infeksies moet dikwels met kombinasie-
middels behandel word. U veearts sal u
met advies bedien na ’n volledige ondersoek.
- Onttrekkingsperiodes vir antibiotika moet
nagekom word:
Tylosin: 7 dae, wateroplosbaar, 3 weke, voer-
mengsel.
Oxytetrasikliene: 7dae, voermengsel, 30 dae,
inspuitbaar.
Doxysiklien: 2 weke, wateroplosbaar.
Advocin: 7 dae, inspuitbaar.
Wenke vir identifikasie van lugsaksiekte
- Inspekteer volstruise daagliks vroegoggend en
identifiseer moontlike tekens van vroeë
lugsaksiekte (skuim-oë, nat of vuil neuse, roggel-
geluide, slym in waterbakke).
- Hou weerstoestande dop vir skielike
veranderinge.
- Wees bedag op voerkwaliteit (stowwerige voer)
en -samestelling vir behoefte. Inspekteer
voerbakke vir tekens van muf of aanwesigheid
van ou voer.
- Inspekteer waterbakke vir tekens van slymbesmet-
ting en verseker dat skoonmaakprosedures in plek is.
- Meet massatoename oor ’n 30 dae-periode en
vergelyk met voeromset.
- Let op afkeuring van volstruise by die abattoir.
- Let op nadoodse ondersoekdata van
plaasvrektes.
- Wees bedag op die effek van strestoestande.
Voorkoming
- Verminder strestoestande op die plaas.
- Voer volgens voedingsbehoefte en bekendheid
daarmee.
- Maak voerkampe 2 keer per jaar skoon.
- Probeer om stof en wind te beheer (verskaf
skuiling of windbreuke).
- Verminder populasiedigtheid.
- Laat voerkampe elke 7 jaar rus.
- Maak waterbakke weekliks en voerbakke daagliks
skoon.
- Gebruik antibiotika oordeelkundig.
- Behandel tydens strategiese tye en in hoërisikotye. Laat u
veearts ’n program volgens u behoeftes ontwerp.
- Gebruik individuele behandeling vir enkele
ernstige siek voëls of skuif hulle na ’n afgesonderde
kamp.
- Indien die voëls nie in ’n goeie kondisie is nie
of swak vreet, moet daar na ’n sterker rantsoen
oorgeskakel word
- Moniteer voerinname, massatoename en ribkas-/
karkas-afkeurings.
DIS ’N FEIT:
- Lugweginfeksies kom dikwels by volstruise voor.
- Bestuur veral dié risikofaktore:
- Stres
- Populasiedigtheid
- Skei kuikens van slagvoëls en slagvoëls van broeivoëls.
- Moenie nuwe en ou troppe meng nie. Hou oorspronklike troppe bymekaar.
Source: Dr Adriaan Olivier, technical advisor of the SAOBC 

|
 |