 GESPREK TUSSEN LANDBOU EN BEWARING WORD HIER AANGEMOEDIG4 June 2008
Oudtshoorn speel die eerste week in Augustus gasheer vir ‘n
groot aantal wetenskaplikes, bewaringskundiges, en belangstellendes
wanneer die “Interface 2008” kongres hier aangebied word. Hierdie
kongres se tema is “Linkages across biomes”, en is gefokus op
omgewingsake binne die Fynbos- en Karoo-gebiede.
Twee forums wat gewoonlik afsonderlik aangebied word, word met
hierdie kongres in ons tuisdorp vir die heel eerste keer
saamgesnoer. Die Fynbos Forum (FF) spreek bewaringskwessies
aan in die Fynbos Bioom (of die Kaapse Floristiese Koninkryk,
soos dit ook bekend staan), en die “Arid Zone Ecological Forum”
(of AZEF) spreek kwessies aan in die droë gebiede van ons land
soos die Sukkulente Karoo, of die Vetplantkaroo, soos ons dit
plaaslik noem. “Interface 2008” is dus `n geskiedkundige geleentheid!
Oudtshoorn huisves ‘n Wêreld Erfenisgebied (die Swartberge) –
een van 8 in Suid-Afrika! - en word internasionaal erken as
biodiversiteit-brandpunt, aangesien 3 bedreigde biome in hierdie
omgewing voorkom.
Oudtshoorn is ook die tuiste van die volstruisboer, en
toenemend ook die wilds-boer, terwyl ander boerderye
(soos skaap en bees en gewasse) reeds jare lank hier gevestig is.
Die groei in eko- en agritoerisme in hierdie omgewing spreek van
die toenemende praktyk om ons natuurlike hulpbronne effektief en
volhoubaar te benut. Dit wek ook kwessies van volhoubare produksie,
ekonomiese gewin en hoe mens en natuur voortdurend hand-aan-hand
saamleef.
Daar is nie noodwending `n groot gaping tussen landbou en
natuurbewaring nie. Talle inisiatiewe getuig van suksesvolle
samewerking tussen die twee sektore. Voorbeelde sluit onder
andere in, die Blou Kraanvoël Projek, die Biodiversiteit-en-Wyn
Inisiatief, en CapeNature se Voogdyskap Program waar privaat
eiendom as bewaringsgebiede geregistreer kan word. Vir baie
grondgebruikers is die natuur immers deel van `n kultuur wat
die bewaring en koestering van die omgewing insluit. Op die
lang termyn hang die welstand en volhoubaarheid van `n boerdery
af van die grondgebruiker se vermoë om as voogdy van die grond
en ander natuurlike hulpbronne op te tree. By “Interface 2008”
sal veral gepraat word oor die verwantskap tussen bewaring en
benutting in hierdie konteks, en kan grondgebruikers uit die
gebied en navorsers opinies deel en gedagtes uitruil oor hoe
hulle hierdie kwessies benader.
Om munt te slaan uit die groep bewaringskundiges wat in ons dorp
sal wees, word daar op 5 Augustus 2008 ‘n geleentheid geskep vir
boere in die omgewing om met hierdie kundiges in gesprek te tree.
‘n Program is opgestel (sien advertensie) waar twee sprekers met
bewaringsagtergrond aanbiedings gaan doen, en twee plaaslike boere
gaan vertel hoe hulle sukses behaal met omgewingsvriendelike
praktyke in hul boerderye. Gesprek sal gevoer word oor bewaring
en benutting van natuurlike hulpbronne, en hoe hierdie delikate
balans gehandhaaf kan word. Boere wat vrae het wat hulle aan
navorsers en natuurbewaarders wil stel, sal hier die geleentheid
gebied word om dit te doen. Navorsers sal ook baat vind by die
insae en ervarings van boere in die omgewing.
Hierdie geleentheid is natuurlik nie beperk tot die landbou- en
bewaringsektore nie – enigeen wat wil deelneem is welkom!
Ons wil werklik gesprek, leerprosesse en kennis-uitruil aanmoedig –
as u wil saampraat of net kom luister, kom loer gerus in!
Ter wille van spyseniering moet u asseblief registreer by Yvette Lötter voor 1 Augustus, by 044 272 4480 of bio2@saobc.co.za.


|