 LANDBOU EN BEWARING GESELS18 August 2008
‘n Baie interessante "boeredag-werkswinkel" is onlangs, tydens die "Interfaces 2008" in Oudtshoorn,
by die Oudtshoorn Navorsingsplaas gehou.
"Die doel van die werkswinkel was om debat en gesprek tussen die landbou- en bewaringsektore te inisieer
en stimuleer," sê Anton Kruger, HUB van die Suid-Afrikaanse Volstruis Besigheidskamer, wat onlangs ‘n
toekenning van die Critical Ecosystem Partnership Fund (CEPF) ontvang het om ‘n projek oor
bio-diversiteitsbestuur binne die volstruisbedryf te loods. "Ons moes eenvoudig munt slaan uit die
kollektiewe kennis van die groot aantal wetenskaplikes en omgewingskundiges wat saamgetrek het vir die
"Interfaces 2008". Dit was ‘n gulde geleentheid vir boere om in gesprek te tree met omgewingskundiges
en omgekeerd," sê hy.
Die werkswinkel is deur sowat 50 rolspelers in beide die bewarings- en landbou-dissiplines bygewoon.
Vier aanbiedings is gedoen – 2 deur boere wat hulle "groen" stories vertel het, 1 deur ‘n kundige op
wildsbestuur en 1 deur die projek-koördineerder van die volstruisbedryf se bio-diversiteitsbestuursprojek.
Ná die aanbiedings is groepbesprekings gehou – sinvolle inligting oor wat boere moet weet om ‘n ekonomies
haalbare en ekologies volhoubare bedryf te bestuur, is ingewin.

"Onderwerpe wat deur die groepbesprekings gegenereer is, sal geneem word na bestaande forums met die versoek
dat hierdie onderwerpe in volgende vergaderings aangespreek word. Waar daar navorsingsbehoeftes is, sal dit
na die relevante dissiplines geneem word met die versoek om dit te probeer aanspreek en die bevindinge via
die bestaande kommunikasiekanale te rapporteer," sê Anton.
Kirsten Fourie, wat ‘n soortgelyke "boeredag" gereël het tydens verlede jaar se "Arid Zone Ecological Forum"
in Sutherland, meen dat gesprek tussen hierdie sektore krities belangrik is. "Dit was wonderlik om te hoor
hoe boere tydens teetyd met die kundiges gesels het, spesifiek om raad te vra oor wildsbestuur," sê sy.
"Terugvoer uit die "groen" sektor was ook deurgaans positief – dit was vir wetenskaplikes lekker om met
praktiese voorbeelde gekonfronteer te word."
Source: Biodiversity Management Project 

|