 Volstruisbedryf deel van handelsending na Moskou7 November 2008
Die Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), Anton Kruger, neem vanaf 9 tot 15 November 2008 deel aan ‘n handelsending na Moskou wat gereël is deur die Suid-Afrikaanse Departement van Handel en Nywerheid ( dti). Hierdie besoek is in opvolging van die Mei 2007 handelsending waartydens die potensiaal vir Suid-Afrikaanse volstruisprodukte ondersoek is.
Russiese sakelui het die Suid-Afrikaanse volstrusbedryf in Oktober 2007 ondersoek en het bevestig dat daar potensiaal vir hierdie unieke produkte is, maar dat die produkte grootliks onbekend is in Rusland. Die SAVBK sal dus tydens hierdie handelsending aktief bewustheid van die produkte verhoog in samewrking met die Suid-Afrikaanse Departement van Handel en Nywerheid.
Hierdie bewusmakingsaktiwiteite sal die volgende insluit:
-
'n dinee vir 150 afgevaardigdes waartydens drie Suid-Afrikaanse volstruisvleisgeregte bedien sal word. Die bekroonde Suid-Afrikaanse sjef, Pete Goffe-Wood word deur die SAVBK vanaf Kaapstad na Moskou geneem om te verseker dat die geregte korrek voorberei word. Dit sal dan ook die eerste keer wees dat Suid-Afrikaanse volstruisvleis in Rusland bedien word;
- 'n sterk sigbaarheid van volstruisleer-en vere produkte wat skeppings van die Suid-Afrikaanse mode-ontwerper, Deon Oelofse, sal insluit. Die rokke sal deur Russiese modelle vertoon word tydens die formele handelseminaar asook by ‘n hoë-vlak skemerkelkonthaal naby die Kremlin;
- verspreding van volkleur pamflette, in Russies, oor Suid-Afrikaanse volstruisprodukte; en
- ‘n formele aanbieding oor die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf deur Anton Kruger
"Die Sentraal-en Oos-Europese markte is potensieël goeie nuwe markte vir die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf en die hoë gehalte van die Suid-Afrikaanse produkte skep ‘n vraag – sodra verbruikers daarvan bewus gemaak is. Die SAVBK waardeer en benut dus die geleenthede wat deur die Departement van Handel en Nywerheid geskep word", het Kruger gesê.

Die fotos wys twee van die volstruisleer-en vere uitrustings wat deur Deon Oelofse ontwerp is op versoek van die SA Volstruisbesigheidskamer. Hierdie skeppings word van 9 tot 15 November in Moskou ten toon gestel.


|