 Die Suid Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer dra by tot verbetering van die aansig van Oudtshoorn16 March 2009
Die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), wat die hele Suid- Afrikaanse Volstruisbedryf verteenwoordig
het onlangs die ingang by sy kantore in Oudtshoorn verfraai deur nuwe naamborde wat in 'n tipiese "Klein Karoo tuin"
aangebring is by die ingang op die hoek van Rademeyerstraat en Parkweg Suid aan te bring.
Die SAVBK verteenwoordig die volstruisbedryf nasionaal en internasionaal en daarom is die fisiese voorkoms van die
nasionale bedryfsorganisasie se beeld belangrik, dit moet die beeld van die volstruisbedryf as 'n luuksegoedere-bedryf
ondersteun, maar met inagneming dat die SAVBK grotendeels befonds word uit 'n bydrae per slagvolstruis, aldus die HUB:
SAVBK, mnr Anton Kruger. Die nuwe ingang, naamlik die tipiese "Karoo Tuin" is ontwerp deur Adzup Bemarking en
Kommunikasie in samewerking met Proworx.
Trotse rentmeesterskap
Die SAVBK waak met toewyding oor die belange en beeld van die sowat 1 000 Suid- Afrikaanse volstruisprodusente-lede.
Die ses EU-goedgekeurde volstruisabattoirs, naamlik Mosstrichgroep in Mosselbaai, Camexo in Port Elizabeth, Grahamstown
Ostrich Abattoir (GOA) in Grahamstad, Ostrimark in Grahamstad, Philippe Genuine Ostrich in Grahamstad, Klein Karoo
International in Oudtshoorn, Rancho las Plumas in Oudtshoorn, Swartland Volstruise op Malmesbury en Gondwana
Volstruisprodukte in Magaliesburg asook, volstruisleerlooierye en vereverwerkers vorm ook deel van die SAVBK.
'n Vennootskap wat werk
"Die SAVBK poog dus om so effektief moontlik te wees en het dus slegs vier voltydse personeellede waarvan twee
geakkrediteer is om sekere funksies namens die Departement van Landbou te verrig. Hierdie funksies is noodsaaklik vir
die behoud van die Suid-Afrikaanse bedryf se uitvoerstatus en word in vennootskap met die Staat gedoen. Op grond van
die SAVBK se stelsels en prosedures wat die afgelope drie jaar ontwikkel is en effektief funksioneer, het die
Suid-Afrikaanse Wildsvleisuitvoerders die SAVBK versoek om ook die rekordhouding en databasisse van die wildsbedryf te
hanteer en dit word dus sedert Mei 2008 gedoen", het Kruger gesê.
Omgewingsbestuur ter bewaring van ons bio-diversiteit.
Daar is ook twee tydelike personeellede op 'n kontrakbasis werksaam by die SAVBK en hulle hanteer die
bio-diversiteitsbestuursprojek. Hierdie projek word befonds met geld uit die VSA en het reeds bestuursplanne vir 10
produsente in die Oudstshoorn –omgewing opgestel om te verseker dat 'n balans gehandhaaf word tussen die bewaring en
benutting van die omgewing – veral in die Klein Karoo wat ekologies baie sensitief is. Waar natuurlike veld beskadig
is, word dit tans gerestoureer met, onder andere, die aanplant van die oorspronklike plantegroei. Hierdie werk het
daartoe gelei dat mnr Kruger onlangs vereer is met 'n prestige-toekenning vir die volstruisbedryf se bydrae tot bewaring
deur die Gouritz Inisiatief vir Bewaring.
Source: Suid Afrikaanse Volstruis Besigheids Kamer 

|